GESKIEDENIS EN ONTWIKKELING
Skool in die ou-ou dae …
Alhoewel skool as sulks vir enige kind ‘n las is, is dit een van die eerste dinge waaraan gedink word wanneer ‘n dorp begin vorm kry. So was dit ook met Tzaneen.
Die eerste volwaardige skoolopening van die Tzaneense Afrikaanse Laerskool was op 19 Julie 1921. Van dié datum tot Junie 1926 was die skoolhoof mnr. CA van der Merwe.
Die onderwysers het dit nie maklik gehad nie. Waar daar vandag ander krisisse is (meestal intern), was die krisisse van daardie tyd ekstern: swaar reëns, onbegaanbare paaie, malaria, ondoeltreffende geboue, siekte, ongeletterdheid van leerlinge wat toegelaat is, ensovoorts.
Die relatief klein leerlingtal se ouderdomme het gewissel van sewe tot negentien. In Julie 1926 neem die geliefde mnr. S le Roux Malan (onder almal wat hom geken het, sommer bekend as oom Slêr), oor as hoof. Hy was in dié pos tot einde Maart 1952. Hy het ook ‘n moeilike pad geloop, deurdat hy van sy eie kinders deur malaria aan die dood moes afstaan.
Met sy aftrede was daar vyf permanente klaskamers. Sommige onderwysers het op die stoepe van hul eie huise klas gegee. Ander het die voorportaal en verhoog van die destydse stadsaal in klaskamers omgeskep. Ten spyte van dié uitdagings, het onderwysers steeds geld ingesamel om hul leerlinge op opvoedkundige toere te neem.
Op 1 Julie 1952 is mnr. PJJ (Piet) Joubert as hoof aangestel. Die skoolterrein het nog steeds bestaan uit wilde bome en bos. Pouses was ‘n fees van wegkruipertjie in die lang gras. Van lopende water was daar nie sprake nie, en leerkragte en leerlinge het hul eie waterbotteltjies skool toe gebring om hul dors te les. Elektriese krag was daar ook nie en op onweersdae moes almal hul oë skreef om te kon sien.
Vroeg in 1953 is die fondamente van die huidige skoolgebou gegrawe. Benewens vyf permanente klaskamers was daar ook ‘n sinklokaal (‘n sauna in Tzaneen se somer!).
‘n Grasdaklokaal is deur ouers gebou en is gebruik vir die bediening van tee tydens pouses. Daar was ‘n ander lokaal waar die skoolsaal vandag is. Nog ‘n klas was in die SAVF-kliniek. Omdat die klasse so verspreid was, moes die hoof sy motor gebruik om van een klas na die volgende inspeksie te doen. Daar was twee stelle put-sinktoilette.
Daar was nie ‘n kantoor nie en ‘n staalkis in ‘n klaskamer het die administrasie gehuisves. Die registrasie van leerlinge en probleme wat met die hoof bespreek moes word, is op die stoep afgehandel. Selfs die inspekteurs moes tevrede wees met ‘n geselsie onder die bome!
Vir tikwerk het die onderhoof sy tikmasjien vir die hoof geleen. Wasvelle wat getik moes word, is deur die vriendelike samewerking van die bestuurders van Troyes-vulstasie daar toegelaat, wie se sekretaresse dit dan gedoen het.
In dié stadium het die dorp drie teerstrate gehad: Agatha- (tot by die Laerskool), Peace- en Danie Joubertstraat.
Die skool het vinnig gegroei tot 290 leerlinge, waarvan 38 in Engelsmedium onderrig is. Vir kinders wat ver moes ry om by die skool te kom, is drie verskillende lokale vir huisvesting geoormerk. Ouers het saamgewerk en geraap en skraap om beddegoed en eetgerei aan te vul.
Omdat dié toedrag van sake nie ideal was nie, is die onderwysdepartement uiteindelik oortuig om ‘n provinsiale koshuis te bou. Die skool se eie, volwaardige koshuis het met 168 leerlinge afgeskop!
Skoolkonserte, kermisse en optogte is gehou om geld in te samel vir noodsaaklike aanvullings, sodat die skool behoorlik kon funksioneer. Die onverwagse bevolkingsontploffing het gemaak dat die Laerskool Tzaneen in vroeër jare met ‘n leerlingtal van meer as een duisend die grootste laerskool noord van Pretoria was.
Die stryd teen malaria is gewen, maar die bilharzias-gevaar het die skoolraad genoop om ‘n swembad te bou, omdat die leerlinge in die hitte nie uit die Letaba-rivier kon bly nie!
En hier is die skool nog vandag: trots, versorg en volhoubaar! Mnr. Vic Rijnen staan al vanaf 1998 aan die hoof van ‘n uitgebreide personeel. Hoewel talle Engelse kinders in Unicorn Primary ‘n tuiste gevind het, het die Laerskool Tzaneen sy deure oopgegooi as ‘n veelrassige leer-instansie.
Die skool bars nou uit sy nate en is een van die trotse nalatenskappe van hardwerkende en toegewyde voorgangers. |